Leandrea Louw op Walvisbaai
Twaloloka-inwoners kry eerste spoeltoilette
Die Namibiese hawe-owerheid (Namport) het deur hul maatskaplike belegging N$1 miljoen betaal vir die installering van suurstof en ander mediese toerusting weens die Covid-19-pandemie in Walvisbaai.
Hiermee saam het die sowat 300 inwoners van die informele buurt Twaloloka ook nou vir die eerste keer spoeltoilette. ’n Sestigvoetlange vraghouer is in ses toilette en wasbakke omskep.
Mnr. Kavin Harry, uitvoerende beampte van die projek se hoofborg Namport, het gesê: “Niemand is werklik voorbereid op die groot eise wat hierdie pandemie stel nie.”
Harry het bygevoeg Afrox is gereed om suurstof aan dringend noodsaaklike mediese fasiliteite te verskaf.
Twintig mobiele toilette ter waarde van N$260 000 is reeds gedurende die inperkingsfase geïnstalleer.
Die burgemeester van Walvisbaai, mnr. Alderman Wilfred, sê die ablusiefasiliteite het watertoevoer en is aan die munisipale rioollyn verbind.
Wilfred sê dié vennootskap sal baie help om die regering aan die hand te vat en om teen die onsigbare vyand te baklei deur water- en rioollynkonneksie te verskaf.
Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het sy opregte dank aan Namport uitgespreek: “Nooit tevore het ons ’n vennootskap so broodnodig gehad om die huidige uitdagings suksesvol te hanteer nie.” - leandrea@republikein.com.na
SOURCE: Republikein
https://www.republikein.com.na/nuus/nuwe-ablusie-meer-suurstof-op-walvis2020-07-20/